Semantiese interpretasieverskille het vanjaar Mosselbaai-munisipaliteit 'n skoon oudit gekos.
Die munisipaliteit poog deurentyd om die maksimum voordeel te uit die beskikbare beperkte finansiering vir behuising en infrastruktuur te trek. Die munisipaliteit gaan dus 'n noukeurige proses deur wanneer tenders vir behuising en infrastruktuurprojekte toegeken word.
Die ouditeur-generaal oorweeg drie aspekte by die oorweging van munisipale oudits, naamlik of voorafbepaalde doelstellings soos deur die munisipaliteit gestel behaal is, of die finansiële jaarstate akkuraat weergegee is, asook of wetgewing nagekom is.
Die munisipaliteit het 'n ongekwalifiseerde ouditmening met een bevinding ontvang. Die bevinding vanjaar hou verband met die subkontraktering op tenders van meer as R30 miljoen. Vir drie behuisingstenders moes subkontrakteurs oorweeg word. Die munisipaliteit kon aan die ouditeur-generaal bewys dat die uitvoerbaarheid van subkontraktering in twee van die tenders oorweeg is. Hoewel die haalbaarheid van die gebruik van subkontrakteurs in die derde tender oorweeg is, soos deur die konsultante vir die tender wel bevestig is, was die dokumentêre bewys soos deur die konsultante gelewer nie bevredigend vir die ouditeur-generaal nie. Dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit 'n bevinding gekry het en nie 'n 'skoon' ouditstatus ontvang het nie.
Daar moet in gedagte gehou word dat daar wetlik geen definisie vir 'n "skoon" oudit is nie. Dit is 'n term wat geïnterpreteer kan word as 'n ongekwalifiseerde ouditmening sonder bevindings.
Die munisipaliteit sal voorts 'n geringe aanpassing moet maak aan die interne beheermaatreëls wat gevolg word sodat konsultante in geval van tenders van meer as R30 miljoen skriftelike bewys moet lewer wat bevestig dat die uitvoerbaarheid van subkontraktering oorweeg is voordat 'n tender toegeken word.
Die munisipaliteit ondersteun die wetgewing wat subkontraktering vereis ten volle, aangesien dit 'n uitstekende manier is om plaaslike ekonomiese ontwikkeling in die Mosselbaai-gebied te stimuleer en veral die groei van KMMO's te bevorder.